Elize Cawood (Rockwood Theatre)
03 Jun

'n Groot groep kunstenaars van die gewilde Afrikaans is Groot konserte asook ander kunstenaars gaan kragte saamsnoer om geld in te samel ter ondersteuning van Elize Cawood vir die tydperk wat sy nie kan werk nie.  Hierdie legendariese en veel-bekroonde aktrise, is verlede jaar met kanker gediagnoseer. Die produksiespan van AiG het besluit om Elize by te staan en te ondersteun op hierdie wyse.

Elize, bekend vir rolle in ondermeer Verspeelde Lente, Binnelanders, Die Wonderwerker, die musiekfilm Liefling en ook die film Skemerson, is onlangs met 'n Fiësta bekroon vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kunste. Sy is ook onlangs benoem vir ‘n Safta vir haar rol in Skemerson.  Sy was verlede jaar op die verhoog te sien by Afrikaans is Groot saam met haar man, die bekende Wilson Dunster en haar dogter Jenna Dunster in Laurika Rauch se ikoniese treffer Die Nostalgie.

"Elize is 'n nasionale juweel, veral vir die Afrikaanse kunste," sê AiG-regisseur Barry Pretorius.  "Om saam met haar te kon werk op ons verhoog, was so 'n enorme voorreg. Jy voel haar teenwoordigheid en die respek wat ons vir haar het, is juis die rede vir hierdie ondersteunings-konsert".