Joshua Na Die Reen

Hoendervleismooi is die perfekte woord om Joshua na die Reën se splinternuwe album, Die Wêreld Binne My, op te som. Sy kenmerkende fluweelstem is die perfekte pasmaat vir die interessante kombinasie van kontemporêre klanke en instrumente, wat met groot sorg by elke liedjie ingewerk is, en die eindresultaat is so treffend dat dit aanhangers se harte weer opnuut sal steel. As kunstenaar, glo Joshua dat musiek die krag het om emosie weer te gee, wat jy nie altyd in woorde kan uitdruk nie, en Die Wêreld Binne My is die perfekte voorbeeld hiervan. Dit bou voort op Joshua na die Reën se wenresep en is ’n versameling roerende sielsmusiek, wat jou sal nooi om jou hart oop te maak en saam te reis deur al die aspekte wat van jou mens maak. Kom geniet Joshua na die Reën en sy nuwe album in die warm en intieme atmosfeer van die Musiekskuur.